Tuis. 02

(Tuis.) #1

130 tuis Februarie 2017


agterblad


Doen tog ’n bietjie moeite as jy iemand se voete


onder haar (of hom) wil uitslaan sê Riana Scheepers.


Kreatiewe streke


vir Cupido


Februarie. Ons vier die liefde. As iets op ’n plesierige
manier gevier word is ek altyd eerste in die ry om
oorbelle en skoene en Die Rok aan te trek. Maar
terselfdertyd kan ek my ook so mateloos vererg vir die
onsinnige kommersiële uitbuiting van daardie einste fees.
Valentynsdag is geen uitsondering nie. Die emmers vol rooi
rose en peperduur sjokolades en ander soetsop wat uit die
winkelrakke tuimel is net so erg soos Boney M se “Little
Drummer Boy” oor supermarkte se luidsprekers van
Oktober tot diep in Januarie.
Die belangrikste rede waarom ek my so vervies vir
Februariemaand se rooi rose of die rooi sjokolade-hartjies
is die dodelik vervelige onkreatiewe denke daaragter.
Miljoene rooi rose word verkoop en almal lyk presies
dieselfde. Miljoene rooi sjokolade-hartjies smelt in
stroopsoet monde en almal dieselfde. Agge nee regtig.
Daar is baie meer opwindende maniere om vir iemand te
wys hoe diep die liefde lê as met ’n vervelige roos of ’n
tjoklit. Dis nét in Februariemaande dat ek nié dink rooi is
’n mooi kleur nie.
As iemand raad wil hê hoe om jou liefde te verklaar vra
my gerus. Ek kan ’n duisend ander maniere voorstel
waarmee jy jou geliefde kan verras. Een daarvan is om ’n
outydse brief te skryf ’n handgeskrewe een wat deur die
posman afgelewer word. Of om ’n gedig te skryf. Doen ’n
bietjie moeite. Skryf jou gedig en laat Google dit in Frans
vertaal. Van die mooiste gedigte wat ek ooit in my lewe
gelees het was nie geskryf deur voortreflike digters nie.
Iemand wat vir my ’n liefdesgedig skryf al is dit onbeholpe
gaan my hart meer roer as ’n verlepte roos met ’n strik.
Goed goed ... Ek hét ook al digterlike pogings gesien
wat ’n voortreflike passion killer is. ’n Graad 7-leerder het
op ’n dag vir my sy meesterstuk voorgelê en gewonder
of dit die meisiekind se hart sal wen. Die openingsreëls
was: Ek dink nou aan my meisie / terwyl ek druk aan my
puisie ... Ek is doodseker dat ek daardie brose verhouding
gered het want ek het vir die jong minnaar gesê: Gooi
die gedig weg gaan koop vir jou meisie ’n rooi roos. Of
sjokolade.
Daar is nóg dinge wat die liefde beslis nie gaan laat bloei
nie. Moenie jul name in ’n boomstam inkerf nie; jy is ’n
barbaar as jy dit doen. Moenie in ’n oomblik van hubris jou
geliefde se naam êrens op jou lyf laat tatoeëer nie – die
noodlot laat haar nie tart nie. As jy ’n man is dan koop jy [email protected]

Riana


nie vir jou meisie stoute onderklere nie; nie haar ma óf
haar pa gaan dink jy is romanties en avontuurlik nie.
Hulle gaan jou nooit as te nimmer vertrou nie selfs al
trou jy eendag met daardie meisie. En as jy ’n meisie is
dan brei jy nie vir jou kêrel ’n trui nie. Hoekom dit so is
kon niemand nog ooit verklaar nie maar die oomblik dat
’n meisie ’n trui vir haar kêrel brei is die verhouding
daarmee heen. Nog iets wat die passie dadelik versmoor
is om ’n pasklaar kaartjie te koop met die liefdeswoorde
van een of ander anonieme weeklaer wat sommer
namens jou die liefde verklaar.
Tereg kan mens vra op watter manier die liefde nuut
verklaar kan word? Met baie dinge. Maar laat ek net een
storie vertel.
’n Vriend van my weet sy meisie is versot op Smarties.
Wat kry sy toe op Valentynsdag? ’n Boksie Smarties. Is dit
opwindend? Sekerlik nie. Maar daar is ’n briefie by: Hy
assosieer haar met die veelkleurigheid van hierdie
sjokolade skryf hy vir die vrou van sy hart. Groen: haar
liefde vir die natuur. Geel: haar vrolikheid en vroulikheid.
Bruin: haar humorsin en haar oë wat altyd lag. Rooi: die
diep innige liefde wat hy vir haar het.
Sy maak die boksie oop – en kom agter dat die boksie
nét rooi Smarties bevat. Want die sorgsame minnaar het
omtrent tien boksies sjokolade gekoop. Hy het sorgvuldig
die kleure geskei en een boksie gevul met die een
oorweldigende kleur wat sy liefde moet verklaar. En toe
daardie boksie weer netjies toegeplak.
Selfs ek wat ’n hekel het aan rooi sou hiervoor
geswig het.

Illustrasies

Paula Dubois
Free download pdf