Tuis. 08

(Tuis.) #1

130 tuis Augustus 2017


agterblad


Skreeusnaakse situasies kan die stigtelikheid van


gewyde plekke lelik beduiwel vertel Riana Scheepers.


Lag in die kerk


[email protected]

Riana


Illustrasies

Paula Dubois

Ek ry saam met my reisgenoot deur die Suid-Kaapse
platteland. My man het hier grootgeword hy ken die wêreld
goed. So ver as wat ons ry noem hy die mooi klinkende name
van die plase die afdraaie die stasies die gehuggies.
Ouvloer Botteliersfontein Aasvoëlkop Die Boord
Herbertsdale Karringmelksfontein Cooper’s
Siding Vadersgawe ... Oor elke plek het hy ’n
storie te vertel: die mense die gebeure die
kaskenades die droefnisse die lewe.
My man is ’n lewendige verteller ek kan
nie glo hoe vinnig die landskap verbygly nie.
Toe ek weer kyk sien ons Riversdal se
beeldskone klein meisiekind; sy wat al
vir eeue lank rotsvas en rustig slaap
lang wimpertjies op haar wange.
Omdat my man se ouers soms lang
tye weg was moes hy as kind elke jaar ’n paar maande in
die skoolkoshuis bly. En dit is natuurlik daar dat die meeste
onheilighede uitgebroei het. Hy begin lekker lag.
Waaroor lag jy vra ek.
Hoekom is dit so sê hy dat die snaaksste dinge altyd in
die kerk gebeur?
Dit spreek vanself: Die dinge waaroor jy jou wil doodlag
gebeur altyd op ’n plek en tyd wanneer jy nie mág nie. Soos in
die kerk.
Waaroor het jy gelag vra ek my man.
Ek hoor die mooiste stories. Van Jock ’n Skot wat met ’n
Suid-Afrikaanse vrou getroud was. Die arme Jock met sy ligte
vel het dit maar hotagter in die wrede Afrika-son gehad. As
noodmaatreël het sy vrou altyd lipsalf byderhand gehou om sy
skurwe lippe te laaf. Eendag in die kerk stamp Jock onder die
gebed aan sy vrou en vra die lipsalf. Sy gee dit vir hom aan.
Terwyl almal se oë toe is smeer Jock sy mond mildelik met die
salf sommer oor sy ken en wange ook. Toe die predikant amen
sê en sy oë vanaf die preekstoel op Jock val bars hy in ’n
onbedaarde lagbui uit. Én die hele gemeente toe hulle sien dat
Jock nie lipsalf nie maar sy vrou se bloedrooi lipstiffie
aangesmeer het!
Chaos in ’n stigtelike plattelandse kerk.
Saterdagaande op die platteland was altyd danstyd en
destyds het die mense nog ordentlik aangetrek om te gaan
dans. Op een só ’n danspartytjie het een van die ouderlinge en
sy vrou geskoffel dat die stowwe staan. Die tannie besluit nee
wat dit is heeltemal te warm haar sykouse moet uit. In die

kleedkamer trek sy dit uit. Haar handsak is nie naby
nie sy druk dit sommer in haar man se baadjiesak.
Die volgende oggend sit haar man sedig in die
ouderlingsbank met dieselfde pak klere
waarmee hy die vorige aand gaan
dans het. ’n Vreeslike niesbui oorval
hom. In plaas van die spierwit sakdoek
wat hy altyd by hom het trek hy ’n
paar sykouse uit wat in die lug voor
hom fladder. En natuurlik sien
almal in die kerk dit.
Wanorde in ’n stigtelike
plattelandse kerk. Eers toe
die man vuurrooi van
skaamte die kerk verlaat
gaan die diens voort.
Pinkstertye moes al die hoërskoolkinders
die aanddienste bywoon. Hul plek was op die twee
galerye. Dit was wonderlik sê my man want die
meisies was op die oorkantste galery.
’n Sekere man en vrou vooraanstaande mense was
bekend daarvoor dat hulle altyd laat gekom het. En dié
spesifieke aand is dit toe ook so. Met ’n stampvol kerk is
die enigste beskikbare plekke tussen die skoolkinders op
die galery. Reg voor my man en sy kwajong-vriende kom sit
die man en sy vrou ’n jakkalspels-stola deftig oor haar een
skouer gedrapeer. Die skoolseuns se aandag is glad nie by die
diens nie hulle is gefassineer deur die jakkals hier reg voor hulle
wat met kraalogies na hulle loer. Uiteindelik kan een van die
belhamels homself nie keer nie en met twee vingers druk hy op
die jakkals se oë.
Die jakkals se bek spring wawyd oop.
Van skrik spring die kind regop en skree woorde wat nié in ’n
kerk tuishoort nie. Die vrou skrik ook spring op en skree nóg meer
onwelvoeglikhede. Die hele galery skoolseuns val oor die banke
soos hulle probeer om nié te lag nie maar dit glad nie regkry nie.
Pandemonium in die kerk en einde van die diens.
Hedendaagse predikante het baie meer deernis met die
menslike kondisie as die vuur-en-swael-predikante van die
verlede. Ek dink ’n mens mág deesdae maar in ’n kerk lag.
Maar gaan dit dan nog so snaaks wees omdat jy mág?
Free download pdf